• Vukallective

Jy groei tog waar jy geplant is

By Jo-Ann Floris

Originally Published in INK on 11 October 2022


https://woordfees.co.za/toneel/agulhasvlakte/?fbclid=IwAR3T8WGZExt6nd4xYZQ-TYuGl4Xu-V4ndSzVEKyvnWr9OWHms1lOtUaDSHE



Milly en Amy en die vlakte en die grond. En die rus wat elders is, maar wat ’n mens altyd weer terugbring na waar jou voete die eerste keer grond geraak het.


Dit is ’n bar landskap wat die gehoor begroet met ’n skimagtige figuur wat doer agter in die skaduwee sit. Berékenend sit – soos ’n roofdier wat wag tot sy prooi moeg gestoei is sodat dit makliker oorrompel kan word.


Maar nou vertel die susters Milly en Amy eers hulle storie. Al deel hulle dieselfde bloed, was hulle lewens verwyder van mekaar tot Amy uit die grootstad terugkeer het na haar geboorteplek, die Agulhasvlakte. Milly het die vlakte nog nooit verlaat nie en bewerk die grond met byna jaloerse intensiteit. Dit is immers al lewe wat sy ken en al wat sy het.


Tog is die skaduwee altyd daar: die voordurende bedreiging om alles te verloor, maar Milly is so hard soos die grond en die veldblomme wat dit baar. En hier staan haar suster nou voor haar. Bloed van haar bloed, maar wat teen mekaar baklei – die een agter ’n masker, die ander so oop soos die vlakte om haar, want hier is nie wegkruipplek vir emosies nie.


Deur hulle gestry en baklei vloei die universele storie van bloed wat dikker is as water, maar dit word nooit ’n stroperige verhaal nie. Trouens, dit krap soveel waarhede oop oor drome, ambisies en die soeke na rus en beter elders dat ’n mens wil-wil kant kies. Almal was mos al daar, of hoe?



Fyn tussendeur verweef is ’n kwessie wat ’n politieke speelbal geword het, maar wat hier teruggegryp word uit die hande van diegene wat dit vir politieke gewin misbruik en dit teruggegee aan die mense wie se lewe geplant is in die grond van hulle geboorte. In min woorde verduidelik dit die smagting na grond en behoort, ’n honger wat net gevoed kan word deur iets te hê wat jy jou eie kan noem en waar jy jou voete geplant kan hou.


Maar die skaduwee kom nader, die gevoel van onheil vroetel met ongemaklike vingers, en Milly kan dit nie meer ignoreer nie.


Daar is egter ’n dringender probleem. Haar suster se onverwagse, onverklaarbare terugkeer huis toe krap baie emosies los en hulle moet daardeur skree en baklei tot die onkruid uitgeroei is.


Die akteurs Kay Smith en René Cloete is oortuigend as die twee susters, en hulle wissel moeiteloos tussen die uitbeelding van die volwasse karakters belas met grootmenswees en die sorgvrye kinders wat hulle eens was. Ja, voor die baklei en verwydering gekom het, was hulle net kinders van die vlakte wat soos die veldblomme wou groei.



Tog is die skaduwee altyd daar: die voordurende bedreiging om alles te verloor, maar Milly is so hard soos die grond en die veldblomme wat dit baar.

Om twee sulke emosiegelaaide kwessies – familieverhoudings en die hunkering na grond – in een toneelstuk saam te gooi is effe waaghalsig, want watter een vertel jy die beste?


In hierdie geval het die dramaturg Herschelle Benjamin en Kanya Viljoen, die regisseur, dit reggekry om dit so fyn deur die susters en skadufiguur te weef dat jy nie weet waar die een ophou en die ander begin nie.


Dit laat jou besef mens en grond kan nie van mekaar losgemaak word nie, en dan stoot ’n ongeduld in jou op as jy dink aan die hoeveelste gesprek oor grondhervorming en hoekom dit diegene wat dit nié het nie, altyd onvergenoegde swerwers maak. Gevaarlike, onvergenoegde swerwers.


Soos die harde Agulhasvlake met sy mooi veldblomme is dit ’n realistiese prentjie dat hierdie lewe gee en neem. Partykeer meer van die een as die ander. Soms kom die bangmaakman uit die skaduwees uit en wen.


Die tonele is soms kru, grafies, snaaks, ontstellend, moedeloos, hoopvol. Op die verhoog van die Agulhasvlakte, tussen twee mense, ’n skaduwee en die veldblomme, word ’n hele lewe geskryf.